Terug na die Nuusblad
 
Terug na die Hoofblad
 
   
DIE TERMINALE SIEK KONSERWATIEWE PARTY
deur ons Hoofuitvoerende Beampte

Die Konserwatiewe Party het hom aan die komende verkiesing onttrek  en gaan sy gewig by die nuut gestigte Afrikaner-Eenheidsbeweging (AEB)  ingooi. Dr Ferdi Hartzenberg, die KP leier, sê sy party se hoofbestuur het diè besluit eenparig geneem en stel sy geriewe en strukture tot beskikking van die AEB.

Hierdie is niks anders as ‘n gedaanteverwisseling van die KP nie. Ses van die top bestuurslede van hierdie foefie liggaam het verbintenisse met die KP. Dit is niks anders as ‘n poging om vir dieselfde moeë ou werklose mans van die KP werk te probeer verskaf nie. Hulle het voorheen die parlement se groenbanke deurgesit sonder om enige iets noemenswaardig te verrig en noudat hulle ouer is, word die parlement as ‘n welkome aftreeplek beskou. 

Die KP het nie aan die 1994 verkiesing deelgeneem nie want, het hulle beweer, dit is  teen God se Wil om saam met kommuniste in dieselfde juk te trek. Die volgende jaar het hulle pens en pootjies aan die Kommunistiese , Munisipale verkiesings deelgeneem . Dit het die skrywer genoop om op televisie vir Paul Fouche, die  KP voorbok te vra of hy dink dat God nou sy opinie vir hulle verander het?  Hy kon die vraag nie beantwoord nie. Soos voorspel is, was die KP amper totaal vernietig.  

Hierdie nuwe foefie van die KP gaan hulle niks help nie. Die doodsberig van die KP en sy nuwe front, Die AEB, kan maar gerus noual geskryf word. Die kiesers vertrou net nie die KP nie en hulle gaan na die komende verkiesing ‘n genadedood sterf. Sedert Ferdi Hartzenberg as leier oorgeneem het, het die eens dinamiese KP begin gly op die glibberige pad na selfvernietiging. 

Een van die hoofredes van die KP se ondergang onder Ferdi Hartzenberg, was hulle geheime gekonkel om mense buite hulle top geheime troppie uit te hou. Hierdie skrywer het self ondervinding hiervan gehad. Demokrasie is net iets wat hulle voorgehou het vir hulle ondersteuners. ‘n Kandidaat mag en word toegelaat om honderde duisende Rand te spandeer om verkiesings as kandidaat in hopelose kiesafdelings in verkiesings vir die KP te veg. Al word ‘n persoon demokraties deur ‘n kiesafdeling genomineer as ‘n kandidaat  in ‘n wenbare kiesafdeling, dan word hy afgekeur deur die groepie  voormalige Broederbonders wat die veilige en wenbare setels net vir hulle en hulle trawante reserveer. Die kiesafdeling het geen sê in die saak as hierdie geheime Broedertjies dan ‘n kandidaat uit hulle eie geledere aanwys nie. Dit het ook nie eers saak gemaak watter amptelike poste die afgekeurde kandidaat beklee het nie. As hy nie deel van die geheime gekonkel is nie, dan is hy afgekeur. Sulke afstootlike en walglike politieke gedrag behoort nie onder ons Volk nie.

Dan is daar nog die bedenklike politieke gedrag van Dr Hartzenberg. Hy is openlik aan die kant van ons vyand Mandela teen sy eie Volksgenote. Hy het al selfs langs Mandela op TV gestaan toe Mandela ‘n belangrike beleidsverandering van die KP aankondig. Mandela het aangekondig dat hy vir Dr Hartzenberg oorreed het om hom van die grootste Boervolk organisasie te distansieer. Die vraag kan nou tereg gevra word, watter ander belangrike beleidsveranderinge het Mandela vir die KP gemaak?

Genadiglik het Dr Harzenberg aangekondig dat hy nie as kandidaat beskikbaar gaan wees nie. Dit is goed, want die Boervolk sal weet hoe om met so ‘n politieke verraaier te werk. Daar moet nooit weer plek vir hom in die Afrikaner/Boervolk politiek wees nie. 
Hy het al selfs in die pers gespog hoe hy in een jaar al twaalf keer Mandela se drumpel deurtrap het met besoeke aan Mandela. Besoeke om wat te doen?  Was dit om Mandela te vra om weereens rigting aan te dui vir die KP?  Dr Ferdie Hartzenberg het na die 1994 verkiesing selfs probeer om vir Eugene Terreblanche by Mandela te kry met ‘n afspraak wat hy toe alreeds gemaak het. Die skrywer was self teenwoordig toe Eugene Terreblanche hierdie uitnodiging afgekeur het. 

Uit die bostaande sal gesien kan word dat die AEB, of agter watter ander naam die KP ookal probeer skuil, sal probeer om ons Volk na Mandela te lei.  Hulle het al selfs probeer om onder die naam van die Vrye Republikeinse Beweging (VRB) te werk. Selfs deur die hoofkantoor van die VRB weg van Pretoria en na Nylstroom te verskuif, kon hulle nie die reuk van die KP van hierdie liggaam af weg kry nie. 

Ons kan maar gerus die begrafnisondernemers bespreek om die KP/AEB/VRB te kom begrawe na die komende verkiesing.  Niemand moet treur by die begrafnis nie. Dit moet die eerste begrafnis wees waar daar feesgevier word, want dit sal een minder liggaam wees wat ons Volk na Mandela/ Mbeki kan lei. 

Daar mag ‘n dag kom wanneer hierdie mense die dwaasheid van hulle politieke verraad sal kom erken en bely. As Christene is dit ons plig om hulle te vergewe, maar ons moet nooit hulle name vergeet nie.