Dodelike gevaar skuil in plastiek en drinkwater
. . . niemand reageer op skokverslag
SUID-AFRIKAANSE wetenskaplikes het 'n chemiese stof in drinkwater
en alledaagse plastiekware ontdek wat volgens navorsings-resultate bydra
tot die skerp afname in manlike vrugbaarheid, en die gelyklopende styging
wêreldwyd in die voorkoms van onder meer prostaatkanker.
Die chemiese stof, p-Nonielfenol (p-NP), kom algemeen in die
meeste vorme van plastiek voor – van PVC-waterpype tot die
kleefplastiek waarmee kos daagliks in miljoene Suid-Afrikaanse huishoudings
toegemaak word.
Nege verskillende soorte kleefplastiek is getoets en binne 26 uur
het 100% van die p-NP uit die kleefplastiek in die kos uitgeloog.
Navorsing het bewys dat dit ook loog uit die PVC-pype waarmee drinkwater
na huise gebring word. Die stof kom ook voor in petrochemiese produkte,
soos ghries en petroleum-jellies waarmee babas se boudjies
ingesmeer word, hars, polistireen, waarvan houers vir wegneemkos gemaak
word, skoonheidsmiddels, haarwasmiddels en sekere huishoudelike en
nywerheidsreinigers.
Dr. Tian de Jager, van die Departement Urologie aan die Universiteit
van Pretoria se mediese skool, het navorsing hieroor in sy doktorale proefskrif
gepubliseer, en saam met kollegas wat by die navorsing betrokke is, al
voordragte daaroor op verskillende mediese forums in Bloemfontein, Durban
en die Kruger-wildtuin gelewer.
Dr. De Jager het op die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan
die Vrystaatse Universiteit se forum die resultate van sy navorsing voorgedra.
Toetse wat volgens die aanvaarde internasionale standaarde op rotte uitgevoer
is, het die navorsingspan se ergste vrese oor die uitwerking van p-NP op
vrugbaarheid bewys.
Die grootte van die rotte se geslagsdele het gekrimp en die gehalte
van hul semen het dramaties afgeneem. Die testes en epididimus is daardeur
vergiffig.
Navorsing in Brittanje het bewys dat die p-NP deur die liggaam met
die vroulike hormoon estrogeen verwar word. Die liggaam reageer so dramaties
op die teenwoordigheid van die gewaande estrogeen dat die geslag van manlike
forel wat in Brittanje naby die uitlaat van 'n watersuiweringsaanleg losgelaat
is, binne drie weke so verander het dat hulle die proteien begin produseer
het wat vir die vorming van eiers nodig is.
Verdere navorsing het bewys dat vis, voëls en
soogdiere p-NP as estrogeen hanteer. Dr. De Jager en sy kollegas
se huidige navorsing het reeds bewys dat dit ook die geval vir mense is.
In sy proefskrif sê hy meer as 20 000 ton p-NP word jaarliks
in Brittanje geproduseer. Geen plaaslike syfers is beskikbaar nie, maar
die stof word wyd in die Suid-Afrikaanse plastiek- en kosverpakkingsindustrie
gebruik.
Mense kan deur middel van drink water met p-NP vergiftig word. Dit
kan ook deur die vel opgeneem word, omdat dit in haarwasmiddels, skoonheidsmiddels,
spermdodende smeermiddels en huishoudelike en nywerheidswasmiddels voorkom.
Mense kan dit ook inasem, omdat dit in insekdodende
spuitmiddels voorkom. Kos wat gekweek is op lande wat met rioolslyk besmet
is, kan ook daarmee besoedel wees, as die rioolslyk alkielfenole bevat.
Kos kan ook deur die verpakkingsmateriaal besoedel word.
Die navorsingspan glo die verband tussen die afname in vrugbaarheid
en kanker van die testes en prostaat bestaan wêreldwyd en werk nou
daaraan om die rol wat p-NP, en ander middels wat deur die liggaam as estrogeen
ervaar word, hierin speel, bo enige twyfel te bewys. |